Ons sien die laaste paar weke baie gevalle van Influenza A in die praktyk. Ek is seker dit is wel Influenza A, omdat ons dit bevestig per rapid NP swab. Dit is nie “net ’n verkoue” nie — griep kan jou vinnig baie siek laat voel, en dit versprei maklik deur huise, skole, werksplekke en kerke.
Volgens die NICD het Suid-Afrika se 2026-griepseisoen reeds in die week van 9 Maart 2026 begin, vroeër as gewoonlik. Die NICD rapporteer ook dat Influenza A-stamme soos A(H1N1) en A(H3N2) tans deel is van die sirkulerende griepvirusse in Suid-Afrika.
Hoe lyk Influenza A gewoonlik?
Influenza A begin dikwels skielik…oggend reg, middag siek, sleg!
Tipiese simptome sluit in:
Hoë koors, kouekoors, erge lyfseer, hoofpyn, seer keel, droë hoes, moegheid en soms naarheid of braking — veral by kinders.
Baie mense beskryf dit as:
🦠Ek was nog redelik reg, en toe slaan dit my skielik plat.
🦠 Dit voel of ‘n trein my getrap het.
🦠 Die hoofpyn maak my snags wakker.
Die meeste mense herstel binne 3–7 dae, maar moegheid en hoes kan langer aanhou.
Die NICD waarsku dat griep by sekere pasiënte ernstig kan raak en soms hospitalisasie kan veroorsaak.
Wie loop groter risiko?
Kom asseblief vroeër vir mediese hulp as die pasiënt:
’n Baba of jong kind is,
swanger is,
ouer as 65 is,
asma of longprobleme het,
hartprobleme het,
diabetes het, immuunonderdruk is,
of reeds baie siek lyk.
Wanneer is dit dringend?
Soek dringend hulp as daar benoudheid, vinnige asemhaling, blou lippe, borskaspyn, aanhoudende braking, tekens van dehidrasie, verwarring, stuiptrekkings, ’n baba wat swak drink, of ’n kind wat baie slaperig/”pap” raak, is.
Ook belangrik: as iemand eers beter lyk en dan weer skielik koorsig en sieker raak, moet hulle weer ondersoek word. Dis gewoonlik dan ‘n komplikasie – bakterieël of verergering.
Wat help?
Rus, genoeg vloeistof, koorsbeheer en simptoomverligting help baie.
Antibiotika help nie teen Influenza A self nie, want dit is ’n virus — maar soms kan ’n sekondêre bakteriële infeksie ontwikkel en dan moet die pasiënt weer geëvalueer word.
Daar is wel antivirale medikasie soos oseltamivir wat in sekere gevalle gebruik kan word, veral as dit vroeg begin word en by hoërisiko-pasiënte. Dit werk die beste as dit binne die eerste 48 uur van simptome oorweeg word.
Hoe keer ons verspreiding?
Bly tuis terwyl jy koorsig en baie siek is.
Was hande gereeld, hoes in jou elmboog, vermy om koppies/bottels te deel, en probeer siek kinders weg hou van babas, bejaardes en immuunonderdrukte mense.
Die griepinenting bly belangrik, selfs al is die seisoen reeds aan die gang — veral vir hoërisiko-pasiënte. Ons beveel sterk aan dat skole en groot besighede veldtogte loods om inentings te doen, vroeg in die seisoen. Alhoewel voorraad nou baie laag is, kan julle met @Sr Jeanetta Claassens in samewerking met @Nel2Apteek en @DrElriduPreez gesels om 2027 vroeg genoeg bulk te bestel vir goeie voorkoming vir jou skool of besigheid.
Suid-Afrika se griepseisoen loop tipies in die wintermaande, meestal Mei tot Augustus, maar kan vroeër begin.
Laaste gedagte
Influenza A is meestal selflimiterend, maar dit kan jou baie siek maak.
Die doel is nie om paniek te saai nie — die doel is om vroeg te herken wie veilig tuis kan herstel, en wie betyds gesien moet word.
As jy onseker is, laat ons eerder vroeër kyk.
Groete
Dr Elri
Bronne – NICD, Discovery Health, EM guidance, Medscape
⚠️⚠️⚠️
🚨 Disclaimer: Important Notice🚨
The information provided in this post is for general informational purposes only. It should not be considered as medical advice, diagnosis, or a substitute for consultation with your designated healthcare professional. Always seek the advice of your physician with any questions you may have regarding a medical condition.
