Stres: Dis nie net “in jou kop” nie

Ons almal ervaar stres — dis amper die siekte van ons generasie!

Ons gesin het dit die laaste tyd ordentlik beleef, geleef en oorlééf. Bevoorregte tipe stres, maar stres nonetheless: ons is tans 32 weke swanger met ons reënboogdogtertjie, ons het besluit om die praktyk uit te brei én ons moes huis trek!

Daarom was ek so stil — as mens doelbewus stresbeheer wil toepas, moet mens soms terugskaal. Nog belangriker: omring jouself met staatmakermense, en sien ook om na húlle. My man was my rots die laaste jaar! 🫶🏼

Die sleutelbegrip moet nie “vermy stres” wees nie — dit moet “herstel homeostase” wees. As jy na stres kan na ewewig terugkeer, is jy die wenner. Laat ekwilibrium die doel wees!

Min mense besef hoe diep stres die liggaam regtig raak.


Wat is stres?

In eenvoudige terme is stres jou liggaam se normale fisiologiese en psigologiese reaksie op druk of gevaar.

Korttermyn help dit jou fokus en oorleef. Dis adaptief — dit help om jou ewewig (homeostase) te herstel.

Dit kan jou:

  • Skerper maak
  • Vinniger laat dink
  • Meer kreatief maak
  • Help om probleme op te los

Maar mens kan net só lank rollercoaster ry. Wanneer stres aanhou, begin dit jou liggaam stadig afbreek.


Meer Klinies Uiteengesit

Stres behels:

  • Neuro-endokriene aktivering — Kortisolvrystelling (HPA-as)
  • Outonome respons — Simpatiese aktivering (“fight-or-flight”)
  • Immuunmodulasie — Aanvanklik onderdrukking, later inflammasie

Belangrike Onderskeid

Akute stresAdaptief, positief, korttermyn — herstel homeostase
Chroniese stresMaladaptief — lei tot allostatiese las en sistemiese disfunksie

Wat Gebeur met Chroniese Stres?

Jou liggaam bly in “on-mode”:

  • Kortisol (streshormoon) bly verhoog
  • Jou senuweestelsel is ooraktief
  • Jou liggaam kry nie kans om te herstel nie

Dit lei tot sogenaamde allostatiese las — slytasie op jou liggaam oor tyd. (Ja… ongelukkig nie iets wat jy by SARS kan aftrek nie 😅)


Wat Sê Nuwe Navorsing?

Stres werk nie net emosioneel nie — dit werk fisies tot op selvlak:

  • 🔥 Veroorsaak chroniese inflammasie
  • ❤️ Verhoog risiko vir hartsiektes
  • 🧠 Verander breinfunksie en gemoed
  • 🍬 Dra by tot diabetes en gewigstoename
  • 🦠 Ontwrig die immuunstelsel → verhoog risiko vir infeksies en moontlik outo-immuunsiektes

Jou liggaam begin minder doeltreffend funksioneer. Bloedsomloop en spierfunksie kan beïnvloed word. Metaboliese veranderinge (soos cholesterol) neem toe.


Brein–Liggaam Kommunikasie

Die brein beïnvloed die immuunstelsel en hormone — maar die liggaam stuur ook terug seine. Inflammasie beïnvloed weer die brein. Dis ‘n twee-rigting sisteem.


Hoekom Voel Jy So?

Chroniese stres kan lei tot:

  • Moegheid
  • Angs of depressie
  • Swak konsentrasie
  • Slaapprobleme
  • Liggaamlike pyn en swakheid
  • Besluitnemingsmoegheid (“decision fatigue”)
  • Irritasie en kort humeur

Die Goeie Nuus

Jou liggaam kán herstel — maar jy moet dit help:

✔️ Gereelde oefening — Verbeter bloedsomloop en help breinfunksie

✔️ Genoeg slaap — Krities vir herstel en inflammasiebeheer; help toxins afbreek en verminder neuro-inflammasie

✔️ Duidelike grense — Nie ‘n “airy-fairy” konsep nie — dis biologies belangrik. As jy nie besluit nie, word daar namens jou besluit…

✔️ Ondersteuning — Jou “mense”, jou span, jou veilige plek. Die belangrikste sleutel vir sukses!

✔️ Refleksie en aanpassing — Stop, evalueer, verander jou sisteme. Gebruik insig om hiccups en irritasies te identifiseer en uit te skakel.

✔️ Beplanning — Weet wanneer jy moet rem trek en herstel, maak ‘n datum en hou daarby!


Onthou

  • Stres is nie ‘n swakheid nie — dis aanpasbaarheid
  • Maar chroniese stres is ‘n mediese tydbom

Wanneer Moet Jy Hulp Kry?

As jy konstant oorweldig voel, nie herstel tussen stresperiodes nie, of fisiese simptome ontwikkel — kom praat met jou dokter.


Groete en guns, Dr Elri 👩🏻‍⚕️🌸


The information provided in this post is for general informational purposes only and should not replace consultation with your healthcare provider.

Bronne: